Friday 22 July 2011

Hoekom blog jy, Willie?

Waarom blog ek? Hoekom skryf skrywers?  Soos ek dit sien, kan die idee van 'n markplein dit mooi verduidelik.  Dit is die plek waar mense saamgekom het om met mekaar oor allerhande dinge te praat. Om mense te vind wat in soortgelyke dinge as hulle belangstel. Om stimulerende gesprekke oor allerhande interessante dinge te voer. Op die markplein was daar sommige wat praat en baie ander wat luister. Soos die gesprek ontwikkel volg 'n klop omstanders dit en sommige van hulle gooi ook soms 'n klip in die bos.

Uiteindelik kan een gesprek 'n groot impak op die samelewing hê! Soos wat al meer mense die gesprek voortsit en daaroor nadink - miskien op 'n gekoördineerde wyse - kom daar 'n punt waar mense met invloed gedwing word om daarop te reageer. Dan begin dit om 'n impak op die samelewing te hê. Gesprekke verander ons samelewing. Vandag vorm die media, met al die nuwe moontlikhede vir gesprek, die eietydse intellektuele markplein van ons wêreld. In die Arabiese lande lei dit tot dramatiese politieke veranderinge. In Suid-Afrika bring dit ook stadig maar seker verandering in ons samelewing. Dit noodsaak my om ook aan sommige van hierdie gesprekke deel te neem. My blog is nie alleen my bydrae tot die eietydse gesprek nie maar ook ‘n beskeie poging om hierdie gesprek ten opsigte van daardie sake wat my interesseer te stimuleer. 

Die dinge waaroor ek nadink het meestal met die essensie van ons menslike bestaan te doen. Watter rede het ons om te dink dat daar meer aan die wêreld is as gewoon die fisies-waarneembare dinge? Aan die een kant het ons die wetenskap wat die fisiese wêreld ondersoek. Aan die ander kant het ons 'n boek soos die Bybel wat sekere aansprake oor 'n geestelike wêreld maak. Hoe integreer ek hierdie dinge in my lewe? Wat die geestelike betref, is daar mense wat iewers 'n baie negatiewe belewing daarvan gehad het - wat dit as onderdrukkend en beperkend beleef.  Daar is egter ook baie mense wat dit as bevrydend beleef - mense wat vervulling in 'n geestelike verhouding met God vind. Waarom is dit so?

Ek dink nie net na oor die groter geheel van dinge nie. As daar so 'n groter geheel is - as God en die geesteswêreld bestaan - dan is dit sekerlik 'n sinvolle afleiding dat dit nie alleen in ons persoonlike lewe sal impakteer nie, maar ook in ons wyer wêreld. Dink maar aan Bybelse profesieë oor eindtydse dinge. As die einde nader kom, sal ons seker merk dat die toneel al meer ooreenstem met dit wat die profetiese woord voorspel. In my vorige skrywes het ek dan ook telkens op eietydse gebeure gereageer. Toe die "New Age" 'n besprekingspunt word, het ek 'n boekie daaroor geskryf. Toe Christene die wederkoms aan die einde van die vorige eeu verwag het, het ek Oppad na Armageddon geskryf. Toe The Da Vinci Code verskyn, het ek Discovering the Keystone, Solving the Riddle of the Red Serpent after 40 years geskryf.  Ek het selfs vir sewe jaar 'n twee-maandelikse blad getiteld Perspektief op Wêreldgebeure uitgegee.  En nou, met die Arabiese opstande, het ek weer 'n boek op pad.

Ek hoop om mettertyd ‘n wye verskeidenheid artikels oor ‘n wye verskeidenheid onderwerpe vir ‘n wye verskeidenheid lesers en gespreksgenote (saampraters) op my blog te plaas. Die dinge waarin ek belangstel word elders op my blog gelys. Loer maar so van tyd tot tyd in. Miskien sal jy ook genot put uit sommige dinge wat ek skryf.

No comments:

Post a Comment